2015-01-26

Sarie Artikel - As skool 'n kwessie raak

In die Februarie 2015 uitgawe van Sarie, het die artikel, "As skool 'n kwessie raak" deur Delia Du Toit verskyn. Delia het my onder andere genader vir inligting vir haar artikel en die volgende in haar artikel gebruik:

Vraag: My kind is angstig en wil nie skool toe gaan nie. Wat kan ek doen om haar te motiveer om skool te geniet?

"Geen kind is elke dag lus vir skool nie, maar as dit gereeld gebeur, is daar rede tot kommer, se Christelle du Plessis, 'n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg. As angstigheid die oorsaak is, kom dit dikwels by 5 - 6 jariges en 10 - 11 jariges voor, of in 'n oorgangsfase soos die skuif van laer- na hoerskool. Kyk uit vir skeidingsangs (jou kind klou aan jou), sosiale onttrekking, vloermoere en psigosomatiese simptome soos maagpyn, hoofpyn, en naarheid wat verdwyn as die kind tuis mag bly.

Gesels met jou dogter om uit te vind wat pla. Daar kan verskeie oorsake van laegraad angs wees soos leerprobleme, boelies, ongeorganiseerdheid, veranderinge tuis en sosiale probleme, volgens Christelle. 'n Kind kan sukkel om te verduidelik hoe angs voel. Vra dus konkrete en leidende vrae soos "Is jy bang om skool toe te gaan?", of "Is daar maatjies by die skool wat naar is met ander kinders by die skool?"

As die probleme nie aandag kry nie, kan dit lei tot 'n angsversteuring. Sommige kinders is ook geneties meer angstig. Daar sal simptome soos sweterige handjies, bednatmaak, onttrekking, paniekerigheid, huilerigheid, benoudheid in die bors, lighoofdigheid, 'n knop in die keel, slaapprobleme, irritasie en depressie of woede voorkom. 'n Sielkundige se hulp is dan beslis nodig".

 Vraag: My kind het altyd goed (genoeg) gedoen, maar sy punte gaan skielik agteruit. Moet ek bekommerd wees?

"Dit is altyd 'n bron van kommer wanneer 'n kind se punte skielik agteruitgaan, maar die redes kan skolasties of meer onheilspellend wees.

As jou seun agter is met werk, moet nooit die werk vir hom doen nie. Skep slegs die ruimte tyd en leiding sodat jou kind dit self kan doen en help hom met studiemetodes as hy lui is om te leer, se Christelle.

Dit kan ook gebeur dat hy gedemotiveerd raak as jy onrealistiese eise aan hom stel, se Christelle. Vra vir hom of hy sy bes gedoen het, en as hy het, moet jy oordra dat dit goed genoeg is- selfs al kry hy 40%. Vind die aktiwiteite waarin hy uitblink sodat hy sukses kan beleef en 'n gesonde selfbeeld kan bou.

'n Toekomsvisie help ook veral ouer kinders om gemotiveerd te bly, en 'n beroepsassessering kan dus van waarde wees. Tieners raak ook meer sosiaal en moet geleer word hoe om hul tydsbesteding te balanseer, se Christelle.

Daar kan ook emosionele oorsake by die skool wees, se Christelle. Kyk uit vir stukkende klere of besittings, blou kolle, tranerigheid, nagmerries, selfbeeld probleme of eetlus veranderinge. Dit alles kan op boelies en ander sosiale en emosionele probleme dui.

Jou kind sal dalk niks wil se nie, vra dus dinge soos: 'Met wie speel jy by die skool en wat speel julle?', of 'Is daar kinders by die skool wat geboelie word?' Laat hom verstaan dat jy daar is om te luister en te help indien nodig".

No comments:

Post a Comment